Neem Kennis: Aanlyn kaartjieverkope het gesluit. Kaartjies by die Orania Sportterrein hekke beskibaar.

Orania Karnaval

Visie

Om ons Afrikanerkultuur te beklemtoon en op kreatiewe wyse ten toon te stel.

Missie

Om Afrikaner tradisies deur kuns en kultuur te laat herleef. Om relevante inhoud te bied wat waarde tot ons gemeenskap voeg en hul deelname aanmoedig.

Kernwaardes van die Orania Dorpsraad

Aanbieder van die Orania Karnaval

Die kernwaardes van die Dorpsraad is die beginsels waarvolgens die instelling bedryf word.
Hierdie waardes bied riglyne aan personeel om werksaamhede volgens ʼn sekere protokol uit te
voer en skep dus geloofwaardigheid in die gemeenskap omdat hulle sal weet wat om te verwag
van Dorpsraadpersoneellede in die uitvoering van hulle pligte. Die kernwaardes wat deur die
Dorpsraadpersoneel gekies is, naamlik: roeping, uitnemendheid, spanwerk en integriteit,
weerspieël dus die ware karakter van Orania Dorpsraad.

ROEPING

Ons glo dat ons nie toevallig in ʼn pos aangestel is nie, maar dat die pligte en werksaamhede wat ons
daagliks by die Dorpsraad verrig, ʼn roeping is wat in opdrag van ons Drie-enige God uitgevoer
word. Dit is daarom vir ons ‘n voorreg om deel te wees van Orania en te kan saamwerk aan ‘n
ideaal wat groter is as ons eie belang. Met elke taak wat ons verrig is ons daagliks besig om
te bou aan ʼn Afrikanerstad as tuiste en heenkome vir Afrikaners. Só skep ons vir
Afrikaners ʼn nuwe toekoms in Orania.

UITNEMENDHEID

Ons streef daarna om

  • as mense te ontwikkel en deurgaans ons vaardighede te verbeter;
  • deurentyd na eenvoudige en waardige oplossings vir probleme te soek en
  • volgens die Christelik-Afrikanerwaardes en norme wat ons in Orania koester
  • wêreldgehalte werk en ʼn professionele diens aan ons gemeenskap te lewer.

Ons werk doelgerig daaraan om voortdurend ons eie doelwitte te oortref en aan ons gemeenskap en
ander belanghebbendes die beste te bied wat ons moontlik kan.

SPANWERK

Ons is verbind tot gesamentlike doelwitte terwyl ons eerlike, maar sensitiewe kommunikasie handhaaf. Ons ondersteun ʼn sinvolle eenheid, geesdrif vir gesamentlike belange en ons glo in gedeelde verantwoordelikheid. Ons verstaan dat positiewe samewerking altyd die sukses van die instelling bepaal, daarom werk ons saam in ʼn gees van wedersydse respek en poog ons deurgaans om ons onderlinge verhoudinge te versterk. Eendrag maak mag!

INTEGRITEIT

Ons glo daaraan om altyd die regte ding te doen, selfs wanneer dit moeilik is of wanneer ons alleen is:

  • Ons verbind ons tot hoë standaarde ten opsigte van ons eie gedrag en ons bly getrou daaraan.
  • Ons staan op vir wat goed en reg is.
  • Ons is eerlik en opreg en ons mislei nie deur ons woorde en/of dade nie.
  • Ons onderneem elkeen om konsekwent op te tree ooreenkomstig die goeie christelike waardes
    en norme van die gemeenskap waarin ons woon en werk.