Dit is nie ‘n geringe taak om ‘n karnavalprogram saam te stel wat soveel as moontlik persone insluit nie. In Orania word daar onverpoost gewerk om ons gemeenskap se voorkeure en talente uit te lig.
Die Orania Karnaval word deur die Orania Dorpsraad aangebied en dit kan nie geskied sonder ‘n super span se hulp nie. Arno Lambrechts neem die voortou as Karnavalmeester en hy word met logistieke versterk deur Otto du Plessis en sy span by Gemeenskapsdienste. Die uitmerk van die terrein, parkering, vervoer en skuif van nodige toerusting en opruiming is onder andere deel van hulle vele take.
Gawie Snyman is die Uitvoerende Hoof en hou ‘n wakende oog oor die verloop van die karnavalplan. Hy het onder andere die borge vir hul deelname genader. Ons is dankbaar vir elke borg wat hul lojaliteit toon deur saam te bou aan die Orania Karnaval.
Die Infrastruktuurspan, onder leiding van André van Heerden, Herman Grotius en Mauritz Meyer sorg vir tente, elektriese koppelings en die waterwerke.
‘n Formidabelle span damespersoneel maak seker dat uitstallers volledige inligting kry, die Dorpsraad se stalletjie alle besoekers van inligting sal kan voorsien en dat alle personeellede op hul onderskeie poste diens sal doen. Margie du Plessis is die sameroeper van alle uitstallers.
Cobus Pretorius is die Vlotkaptein en daar is kreatief gewerk om ‘n wye verskeidenheid deelnemers vir die optog te versamel. Die vlotoptog gebeur op Vrydag 6 Oktober en versamel om 15:30 by die Eurekakruising voordat hulle om 16:00 vertrek.
Marietjie Meyer is op haar pos by die Orania Poskantoor wat alle kaartjieverkope hanteer. Onthou dat die poskantoor op Vrydag en Saterdag (6 en 7 Oktober) gesluit sal wees, en kaartjies kan dan by die Orania Sportterrein afgehaal kan word.