Deur Dia van Staden
Daar is selde ‘n lekkerder tydverdryf as om iemand anders se hand- en kunsvernuf te besigtig en opnuut erkenning aan individue vir hul kreatiwiteit uit te spreek. Daar kan gereeld bespiegel word oor die feit dat daar nie gereeld iets “nuuts” in ‘n ry uitstallings gevind kan word nie, maar dan is daar altyd ‘n verrassing wat weer jou asem wegslaan of jou eie denke op loop laat sit.
Tydens ‘n karnaval word daar ook gehoop dat unieke individue hulle uitsonderlike talente en produkte sal kom ten toon stel. Daar word vertrou dat die Orania Karnaval vanjaar kan spog met daardie uitstallers!
Die bespreking van stalletjies open op Vrydag 14 Julie en voornemende uitstallers sal na aanleiding van hul aanlynbespreking gekeur word voordat hul toegelaat word om aan die karnaval deel te neem.
Die splinternuwe uitleg van die Orania Sportterrein sal aan uitstallers en besoekers meer geleentheid bied om rustig deur die stalletjie-hoefyster en ander te stap en kuier-kuier die aanbiedinge te geniet.
Margie du Plessis is in beheer van die stalletjiebesprekings en sal die aanlynregistrasies dophou vir kwaliteit, verskeidenheid en kompeterende pryse van produkte. Stuur gerus ‘n e-pos na stalletjies@oraniakarnaval.co.za om vroegtydig besonderhede te kry.
Stalletjies word by www.oraniakarnaval.co.za bespreek.