Neem Kennis: Aanlyn kaartjieverkope het gesluit. Kaartjies by die Orania Sportterrein hekke beskibaar.

Dia van Staden

Die Orania Karnaval is vanjaar daarop gefokus om aktiewe deelname van die gemeenskap en besoekers te verseker. Daar is besluit om aktiwiteite op die program in te sluit wat vir elke smaak en voorkeur ‘n geleentheid sal bied om ‘n uitdaging aan te pak.

Vir die kleinspan en junior lede van die gemeenskap is daar die Helpmekaar Kinderpret waar allerhande speletjies en uitdagings soos van ouds aan deelgeneem kan word. Jy gaan jou mik moet ken om hierdie nuwe toevoeging tot die karnaval te geniet. Daar sal genoeg waterpret wees om aan deel te neem. ‘n Klein fooi sal betaalbaar wees vir deelname aan sommige speletjies. Wees nuuskierig en gaan kyk!
As die tussen 3 en 6 jariges hulle eie skopfietsies het, kan hulle dit saambring om aan die skopfietsuitdaging deel te neem. Hulle is flink met daardie ernstige skopaksie, maar die glimlagte is ‘n hoogtepunt tydens hierdie uitdaging. Kom moedig hulle gerus aan!
Dié dogters wat al hul motoriese vermoë goed ontwikkel het kan aan die vlegselvou-uitdaging deelneem en sommer baie kreatief raak met ‘n vriendin of ‘n sussie se hare.
Die seuns kan toustaan om papiervliegtuie te vou sodat dit ver en hoog kan vlieg.
Die sportiewes kan aan die waterkaskenades, in spanne van vyf persone, of die fiksheidsuitdaging, vir individue, deelneem. Hier kan jy jou vernuf met water en voorwerpe of spierkrag en spoed wys! Wees ‘n waaghals en neem deel!
Die gewilde steenbou- en vakmanuitdaging sal deur Bo-Karoo Opleiding aangebied word. Nuwe toevoegings tot dié uitdagingslys deur die Orania Dorpsraad is ingenieursuitdaging en Orion DIY Hardeware se sweisuitdaging wat deelnemers sal laat kopkrap om hul doelwit te bereik.
Vir die baardmanne gaan daar geleentheid wees om met hulle groeigeduld te spog. Die langste, die weligste en die spoggerigste baarde sal gekroon word met ‘n verdienstelike prys.
Menere en mejuffrouens kan hulle bene wys as meneer en mejuffrou bene gekroon gaan word. Trek daai kortbroek aan en laat die gehoor besluit wie hulle gunsteling is. Die beoordelaars se keuse sal egter die prettigheid beklink.
Die Karnaval Kraaikoning/in gaan ‘n gekraai van ‘n ander aard afgee! Manne en vroue kan nou al hulle kraai oefen om met die hoender of die eier weg te stap. Dit gaan pret wees en Afrikaners se plesierigheid weer laat opklink. Kom kraai vir jou kroon!