Neem Kennis: Aanlyn kaartjieverkope het gesluit. Kaartjies by die Orania Sportterrein hekke beskibaar.

Deur Dia van Staden

Die amptelike opening van die jaarlikse karnaval sal op Saterdag 30 September met ‘n os op die spit geskied terwyl die gemeenskap om vure en plesierige tafels kuier. Die hekke van die Orania Sportterrein sal om 16:00 open sodat gesinne en vriende genoeg tyd sal hê om te gesels, kuier en lag en die musiek van die Grotgarde te geniet.

Om 18:00 sal die verrigtinge amptelik geopen word en die Karnavalmeester, Arno Lambrechts, sal die karnavalgangers en besoekers verwelkom. Maak jouself gereed vir mieliepitspoeg, lekker treintjiedanse, musiek en ‘n bord kos wat jou na jou ouerhuis sal laat verlang.

Daar sal genoeg ruimte vir kinders wees om rond te hardloop en te speel of die springkasteel te geniet.

Otto Bruwer is ‘n gesoute braaier en het onlangs sy eie spit gebou waarin hy die os en meer gaan braai. As hy vertel wat hy beplan begin jou mond sommer water.

Die bykosse op die spyskaart sal pap en sous en ‘n broodjie wees. Elke gesin moet onthou om hulle eie eetgerei, slaai, peuselhappies en drinkgoed saam te bring. Daar gaan nie gou weer ‘n geleentheid wees waar jy ‘n bord smulkos kan kry vir R60 per volwassene en R40 vir kinders onder twaalf nie.

Bespreek jou Plaasbraaikaartjies vroegtydig by www.oraniakarnaval.co.za/plaasbraai om teleurstelling te voorkom.