Deur Dia van Staden
Op Vrydag 6 Oktober om 12:00 gaan al die dansstyle wat in Orania te vinde is hande vat om ‘n lasdansfees vir die gehoor aan te bied. Die verhoog in die opelug arena sal vir dié vertoning aangewend word.
Die junior en senior dansers van die onderskeie dansskole skud reeds hulle vere reg om tydens die optrede vir besoekers en inwoners te pronk. Die dansafrigters het reeds ‘n paar keer vergader om hulle planne met Dia van Staden, die organiseerder, te deel en saam te gesels oor kleredrag, musiekkeuses en die choreografie.
Daar word uitgesien na ritmiese gimnastiek, baldanse, lyndanse, volkspele, ballet, pom-pom dansertjies en moderne danse. ‘n Keurige mengelmoes van musiek word beplan om die Lasdansfees iets te maak wat nog lank onthou sal word.
Afrikaners is MOS plesierig!