Deur Dia van Staden
Die feit dat daar maande aan die ontwerp en uiteindelike tema van ‘n vlot gedink en beplan word maak die uiteindelike produk die moeite werd!
Cobus Pretorius is vir die afgelope paar jaar reeds die vlotkaptein en hy sien baie uit na wat vanjaar van die inwoners se kreatiewe denke gaan word in die uitbeelding van die tema “Afrikaners is plesierig!”
Die Oraniërs is bekend daarvoor dat hulle innoverende planne kan maak om ‘n kruiwa, fiets, sleepwa, donkie, trekker of ‘n 3 tonner in ‘n pragtige vlot te omskep. Daar word mooi planne gemaak om ‘n paar nuwe toevoegings tot die optog te verwelkom. Alle vlotbouers moet onthou dat die hek by die Orania Sportterrein 3.5m breed is en dat dit elkeen se verantwoordelikheid is om te verseker dat hul vlot daar kan in-en uit beweeg.
Alle vlotte en vlotstappers moet om 15:30 by die Eurekakruising gereed staan sodat die plasing van vlotte gedoen kan word. Die vlotoptog vertrek stiptelik om 16:00 vanaf die Eurekakruising in Olienhoutstraat en sal tot by die Orania Sportterrein beweeg. Daar sal heerlike pryse op die spel wees.
Die beoordelaars sal fyn kyk om seker te maak dat die tema toegepas word, maar dat die individue op of om die vlot darem hulle plesierigheid ook wys! Die atmosfeer, kreatiwiteit en geheelbeeld sal ‘n rol speel. Daar is natuurlik ‘n uitdaging vir ‘n individu om met die mees kreatiewe kostuum vorendag te kom. Dit gaan ‘n kleurvolle Afrikaneraffêre wees!
Besoekers aan Orania sal die nuwe roete vanaf die Eurekakruising tot in Smaragstraat en regs in Pêrellaan kan besigtig en hopelik saam met die optogryers plesierig wees!
Stuur ‘n e-pos na grondgebruik@myorania.co.za, of skakel Jennifer Loots by 053-2070063 om jou registrasievorm te kry of vir meer inligting. Elke vlot sal dertig klein handvlaggies en drie effekleurige lapvlae insluit wat by die wegspring deur die Orania Dorpsraad se karnavalkomitee uitgedeel sal word.
Alle registrasies moet asseblief voor of op 31 Julie by die dorpskantoor ingehandig word.