Neem Kennis: Aanlyn kaartjieverkope het gesluit. Kaartjies by die Orania Sportterrein hekke beskibaar.

Daar word jaarliks gepoog om ‘n verskeidenheid kunstenaars by die karnaval se program in te sluit. Vanjaar is geen uitsondering nie en met die skoolvakansie wat met die karnaval se datums ooreenstem gaan daar beslis tydens die Orania Karnaval gekuier word.

 

Gedurende die week se In Perspektief-gesprekke wat Maandag tot Saterdag tussen 13:00 en 14:00 regstreeks deur James Kemp van PretoriaFM-faam aangevoer sal word, en sal verskeie bekende gesigte en stemme insluit wanneer hulle dringende kwessies soos landbou, die ekonomie, kragkwessies en die Afrikanerkultuur aanspreek. Die name van die deelnemers aan onderhoude sal eersdaags bekendgemaak word.

Op Maandag 2 Oktober gaan Erik Holm sy storie vertel met die titel: Van trauma tot triomf. Die aanbieding beloof om tot op die been te sny wanneer Erik met rou eerlikheid sy lewensreis deel.

Die baie gewilde Kaalvoetkonsert bring Orania se eie kunssinniges se soms versteekte talente na vore wanneer bekendes se liedjies ‘n goue draad is om hartlike stories te vertel. Dié konserte word op 3 en 4 Oktober aangebied.

Die orkes, Soms wen die wolf, gaan vir ‘n heerlike geraas sorg wanneer die eerste NagKuier op 5 Oktober aangebied word. Dit sal na afloop van die Neon Nagdraf afskop wanneer die studente en ander, wat hulself jonk ag, dié musiek kan geniet.

Op Vrydag 6 Oktober sal Pieter Smith die naweek se vermaak met lekker saamsingmusiek aanpor. Die Oraniërs sal nie baie aanmoediging nodig hê om van ‘n lekker saamsing-geleentheid ‘n genotvolle gebeurtenis te maak nie. Japie Greyling, Willemiena van Gezina, Lekke op 2 plekke en ‘n mengelmoes FAK-treffers gaan die Afrikanergehoor laat onthou en laat saamsing!

Caroline Grace gaan Saterdagaand se musikale versameling met haar pragtige stem inlei. Haar treffers Ek bid vir jou, Kortbroek, Voor jou en ander liedjies sal op die musiekspyskaart wees. Sy en Fatman sal ‘n duet of drie doen voordat hy dan die aand en die karnaval se verrigtinge op ‘n hoë noot afsluit. Fatman stel nooit teleur wanneer dit by prettige saamsing en saamdans kom nie. Sy fyn sin vir humor sal ingepak wees vir dié karnaval.

Dit is duidelik dat daar nie ‘n tekort aan talent en kwaliteit klanke tydens karnaval 2023 sal wees nie. Besoek www.oraniakarnaval.co.za om jou kaartjies te bespreek. Volg die uitbou van gebeure op Facebook, Instagram en Tiktok by Orania Karnaval. Sien jou daar!