Die Orania Sportterrein sal vanaf 30 September tot 7 Oktober ‘n miernes van bedrywighede wees, wanneer die elfde Orania Karnaval aangebied word. Die tafel is gedek met ‘n yslike verskeidenheid aktiwiteite en aanbiedinge waaraan jonk en oud sal kan smul.
Arno Lambrechts, Karnavalmeester 2023, vertel dat die komitee vanjaar die uitdaging aanvaar het om ‘n beter en groter kuierprogram vir die breë publiek aan te bied. “Ons tema vanjaar is Afrikaners is plesierig! Dit behoort ‘n goeie aanduiding te wees van die pret en vermaak wat aangebied sal word,” vertel Arno.
Die beplanning vir die karnaval het reeds vroeg in die jaar goed gevorder met kunstenaars soos Pieter Smith, Caroline Grace en Fatman wat die besoekers gaan vermaak. Buiten dié gewilde sangers wag daar baie nuwe aktiwiteite waarin die besoekers as individue of in spanverband sal kan deelneem. Die waterkaskenades gaan vir groot opwinding sorg, asook die fiksheiduitdaging waarvoor nou al voorberei kan word. Die onderskeie dansskole in Orania gaan ‘n gechoreografeerde vertoning lewer, maar die publiek gaan geleentheid kry om aan ‘n impromptu dansuitdaging deel te neem. Ons wil mos plesierig wees!
Vir die jongspan wag daar verskeie speletjies, vlegseluitdaging vir die meisies, papiervliegtuiguitdaging vir die seuns en vele meer. Die dorpskantoor se ingeniersdienste werk aan ‘n delikate uitdaging vir die manne wat hul brein- en handvaardighede wil inspan om probleme op te los. Die flinke bouers sal weer hulle baksteenvernuf ten toon stel met die vinnigste, netjiesste en mees korrekte planuitvoering.
Die jaarlikse vlotoptog geniet altyd baie aandag en daar kan met afwagting uitgesien word na die kreatiewe planne wat die vlotbouers van besighede en instansies maak. Die optog sien vanjaar uit na ‘n hele paar nuwe toevoegings wat toeskouers sal vermaak.
“Ons uitstallers gaan vanjaar deel vorm van ‘n nuwe terreinuitleg, want die dorp en besoekers se groei veroorsaak dat ons innoverende planne moet maak,” verduidelik Arno. Die nuut saamgestelde komitee werk daaraan om ‘n kwaliteit karnaval vir ‘n gerespekteerde gemeenskap en hul besoekers aan te bied.
Die datums vir die bespreking vir stalletjies en die aankoop van toegangskaartjies sal gedurende Julie aangekondig word. Die span wat vir die stalletjies verantwoordelik is gaan krities kyk na kwaliteit en die tipe items wat te koop aangebied sal word voordat iemand gekeur sal word vir deelname aan die karnaval.
Die program begin op 30 September met ‘n Plaasbraai en sluit op 7 Oktober met ‘n fees van musiek af. Alhoewel daar tans aan die nuwe webwerf getimmer word kan belangstellendes reeds by die Facebook-blad, Orania Karnaval, aansluit en die vordering daar dophou.
Enige karnavalnavrae kan aan navrae@oraniakarnaval.co.za gerig word.